Joas – deur Francis Grobler

joas

waar het die wartaal begin

of is dit maar net die gebreekte stemme

van ou bangmaakgoed

wat die somers so vervloek?

ek het gehoor hoe skroei jou skilde

en buig jou mond toe jy

die duine aftel in jou woestyn

en ek sukkel om te sien

want weet jy dan nie dat die wasem

van die snikke uit jou keel

teen my oë sit nie?

want elke stukkende oggend sonder vleis

vier die knakke in jou kop

soos kerkklokke

die godheid van ’n sondag vier

maar ek sal wierook brand

buitekant die tabernakels

van ’n misgevatte verbond

en jou sloeg keer met die ink

van ’n nuwe evangelie

en ek sal Lig vir jou dig tot jou drome kom

en die stem van jou stiltes wees

totdat jy namens die sterre kan praat

en sou my verse optrek teen ’n skriknag soos dié

sal jy vir my dou aandra op jou tong

tot daar waar my strofes

my laas half laat staan ’t

en ons hemele sal heel wees in ewe-wêrelde

waar ons asems mekaar kan vlies

sonder dat ons somers uitblom

en ek sal vir jou ’n kroon skeur

uit die soom van ’n kleed

en die blouste deel

van God se oog

want joas jy weet

dis die sewende jaar

© francis grobler


Bundels deur Francis Grobler: aard /// pyltjies innie sand /// duskant annerkant /// s’thwathwa



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *