Aard – deur Clinton V. du Plessis

Aard

Hiér ken ek myself

ken ek die landskap

se plooi en eelt

soos die binnekant van my hand

van hier tot doer aan die rant

waar klip en aalwyn en ’n bestaan bloei

soggens oog ek van ver die heining

effe tam en lam gebuig en wéét,

vannag is iemand hier oor

en

’n skaap is weg,  miskien meer,

ek kry die vel en bloed en binnegoed

en skryf die verlies iewers in my binneste op

as die droogte soos ’n bosluis kom klou en suig

en alles maer en uitgeteer mergel

as die veld borselkop woestyn tot niks

en die son deur alles brand en boor

sny ek die lammertjie, met knop in die keel,

keelaf

en laat hom lê

dáár waar hy

een met die aarde word

en die jakkals die laaste reste

kom vreet

en die been weer tot stof terugkeer

só draai die wiel,

leer ek

dan stoei ek met God

soos met ’n dronk man in ’n kroeg

wens ek kan Hom aan die keel

gryp en woedend vra:

waarom, waarom?

Maar, as die reën se eerste druppels

plof in die stof

en die aarde stadig opstaan en oopgaan

wens ek ek kan God

verwelkom met ’n koue een

met Hom op die groot stoep sit

en die druppels fyn op ons wange voel.

Net hiér, net hiér, by dier

en veld en twyfel en worstel

en pol wat groen deur die roesbruin kors bars,

net hiér

moet jy my kom inspit

sodat ek in die aarde vas kan groei.


Hierdie gedig is opgeneem in die bundel Verslag, wat binnekort verskyn.

Bundels deur Clinton V. du Plessis: Rangeer /// Woorde roes in die water /// Aantekeninge teen die skemeruur


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *